HISTORIESE OORSIG VAN DIE ONTSTAAN, VESTIGING EN ORGANISASIE VAN DIE VRYSTAATSE JEUGKOOR – (Geneem uit Dr. Huibrie Verster se tesis, Die Vrystaatse Jeugkoor…1987, 31)
Omdat daar voor 1940 alreeds ‘n tradisie van koorsang in die Oranje-Vrystaat was, gevestig deur leidende onderwysfigure soos onder meer Lemmer en Roode, het dit as stimulus gedien vir die verdere uitbou van skolekoorsang. In 1964 realiseer ‘n ideaal van die Administrateur, sowel as die Direkteur van Onderwys in die Vrystaat, wanneer (Dirkie) De Villiers aangewys word om ‘n provinsiale jeugkoor van gekeurde hoerskoolleerlinge saam te stel.
Die taak wat op De Villiers se skouers gerus het, was om ‘n modus operandi te vind waarvolgens die koor kon funksioneer. Hy moes die doelwitte vir die totstandkoming van so ‘n koor formuleer en daarvolgens die res van die beplanning doen. Dit het die beleid in verband met keuring en aanname van lidmaatskap van koorlede, repetisies, koordrag, toere en konserte, koorpersoneel en finansiele werkwyse op verskillende terreine ingesluit.
Toe De Villiers na tien jaar as dirigent en hooforganiseerder van die Jeugkoor uittree, kon hy terugkyk op die suksesvolle stigting en verloop van die Jeugkoorprojek. Die koor het in tien jaar soveel aansien verwerf dat hy, as hoof van musiek, in die Vrystaatse Onderwysnuus van Julie 1975 (p. 30) skryf: “Vandag is daar baie meer aansoeke as wat die koor kan behartig en is al sy uitvoerings gewaarborgde konserte …” …Die koor (het) tot 1986 van krag tot krag gegaan, sowel wat artistieke gehalte betref as ‘n toename in landswye en buitelandse konserttoere.
Daarbenewens het die koor in die beginjare deurgans selfonderhoudend gebly. Alhoewel die Vrystaatse Provinsiale Administrasie ‘n jaarlikse subsidie van R2 500 geborg het, het die koor sommige jare ‘n netto wins van tussen R400 en R1 000 getoon.
Die effektiwiteit van De Villiers se aanvanklike organisasie blyk uit die feit dat na 22 jaar nominasies vir aspirant-kandidate nog volgens diseselfde sisteem wat deur De Villiers verfyn is, verkry (is). Voorwaardes tot aanname vir lidmaatskap (was) in wese nog dieselfde. Repetisies (het) ook op dieselfde terrein met dieselfde organisasie ten opsigte van vervoer-reelings plaas(gevind.)
Aangesien optredes nog steeds volgens uitnodigings en onder beskerming van borge plaas(ge)vind (het), het selfs die organisasie en administrasie hiervan weinig verander. Die finansiele aangeleenthede rakende die koor is tot 1986 steeds deur die Provinsiale Administrasie behartig.
Die implementering van die Jeugkoor-konsep in die Oranje-Vrystaat is so effektief toegepas dat ander Jeugkore in Suid-Afrika direk as gevolg daarvan tot stand gekom het.
(Redaksie: Jan-Erik Swart)
Die artikel is verkry vanaf: http://www.facebook.com/groups/4838312234/doc/10150185570232235/