BESONDERE UITNODIGINGS EN GELEENTHEDE AS HOOGTEPUNTE(Geneem uit H. Verster, Die Vrystaatse Jeugkoor, 1987. 81-85)
- ‘n Moontlike uitstaande hoogtepunt gedurende die eerste tien jaar was ‘n uitnodiging deur die Suid-Afrikaanse Regering waarin die Jeugkoor genooi was om op 10 April 1968, tydens die inhuldiging van die Staatspresident, J.J. Fouche, in Kaapstad op te tree. Motivering van hierdie besluit was waarskynlik tweerlei van aard, want as gebore Vrystater sou die optrede van die Vrystaatse Jeugkoor by sy inhuldiging eerstens vir mnr. Fouche besondere persoonlike betekenis he. Tweedens het die koor teen 1968 alreeds ‘n uitvoeringstandaard bereik wat luister aan die geleentheid sou verleen. Hierdie bewering word bevestig deur die gunstige kommentaar wat na aanleiding van ‘n konsert wat op 5 April 1968 in Bloemfontein aangebied is, in ‘n plaaslike koerant uitgespreek is (Die Volksblad, 5 April 1968:13). Dus het die koor, onder leiding van albei sy dirigente, De Villiers en Van Huyssteen, op 10 April 1968, ter ere van die geleentheid, voor die erediens in die Groote Kerk in Kaapstad, ‘n kort gewyde program van geestelike werke gelewer. Tydens die diens self het hulle die President toegesing: “Zie in genade en liefde neer op onze President, o Heer…’ (uit die Vrystaatse Volkslied) By die staatsbanket wat na die inhuldiging gevolg het, het die koor ten slotte drie sekulere werke voorgedra.
- Ook het die Jeugkoor gedurende Mei 1971 tydens die tienjarige Republiekfeesvieringe in Kaapstad, as die enigste uitgenooide koor uit die Vrystaat, opgetree. As deel van die amptelike feesprogram het hulle ‘n kort konsertreeks van vier uitvoerings in Kaapstad, Groenpunt, Pinelands en Stellenbosch aangebied.
- Vanwee die rol wat De Villiers en die Vrystaatse Jeugkoor in die totstandkoming van die Natalse Jeugkoor gespeel het, was bande tussen die twee kore gedurende die eerste tien jaar van die Jeugkoor se bestaan, besonder heg. Gereelde gesamentlike optredes is onder meer aangebied, byvoorbeeld gedurende Oktober 1969, September 1970 en weer in Mei 1971. Heel gepas bied die twee baanbreker-jeugkore op 8 Junie 1974, die jaar van De Villiers se uittrede as koorleier, ‘n gesamentlike uitvoering in die stadsaal van Johannesburg aan. Hierdie konsert was onder die stok van dirigent Edgar Cree, bygestaan deur die S.A.U.K. Junior Simfonie-orkes, en is ook direk deur die S.A.U.K. oor beide die Afrikaanse en Engelse radio-senders uitgesaai.
- Wasserman vermeld dat die Jeugkoor ook gedurende 1975 ‘n besondere eer te beurt geval het wat as ‘n verdere hoogtepunt in die koor se geskiedenis beskou kan word. Op 10 Oktober 1975 is die Taalmonument in die Paarl onthul en is die koor uitgenooi om tydens die geleentheid, saam met vier ander kore, op te tree.
- Die koms van televisie in Suid-Afrika was ‘n belangrike gebeurtenis wat ‘n nuwe era met besondere artistieke moontlikhede sou inlui. Hierdie medium bedien uiteraard ‘n baie groter gehoor as wat gewone konsertoptredes kan bereik. Ook in hierdie medium sou die Vrystaatse Jeugkoor insette lewer. Op 11 September 1977 word ‘n eerste optrede van die Vrystaatse Jeugkoor onder leiding van Wassermann as koorleier, in die program “Met Woord en Lied” gebeeldsaai. Daarna sou die koor jaarliks tydens die Junie-vakansie opnames vir beeldsending maak.
- ‘n Verdere hoogtepunt in die geskiedenis van die Vrystaatse Jeugkoor was ‘n uitnodiging van die vereniging “Vrienden van Zuid-Afrika”, om Vlaandere in September en Oktober 1978 te besoek. Hyman het as koorleier opgetree en konserte is onder andere in Zottegem, Meere, Velzeke, Aalst, Oostende, Gent en Heuverlee in Belgie aangebied. Optredes was hoofsaaklik in katedrale. Die koor het Parys ook besoek en in Londen ‘n uitvoering in Suid-Afrika-Huis gelewer.
- ‘n Verdere eer wat die koor in 1981 te beurt geval het, was om tydens die Republiekfees na die hooffeesvierings in Pietermaritzburg uitgenooi te word. Op 26 Mei het die koor, naas ander groepe, ‘n uitvoering as deel van ‘n reks prestige konserte, wat deel van hierdie fees gevorm het, gelewer.
- Nog ‘n buitelandse toer het in 1983 gevolg, toe die Vrystaatse Onderwysdepartement toestemming verleen het dat die Vrystaatse Jeugkoor op uitnodiging, die dertiende Zimriya Internasionale Koorfees in Israel, as deel van ‘n toer na Europa kon bywoon. In Junie 1983 het die koor vir ‘n toer deur Europa vertrek wat vanaf 24 Junie tot 20 Julie geduur het, met bywoning van die Zimriya-fees vanaf 4 tot 18 Julie. Volgens die koorleier, Wassermann, was die optredes ‘n unieke hoogtepunt in die ontwikkeling en artistieke ervaring van die koor wat verruimend vir hulle toekomstige ontwikkeling ingewerk het. (Word vervolg)
(Redaksie: Jan-Erik Swart)
Die artikel is verkry vanaf: http://www.facebook.com/groups/4838312234/doc/10150188235897235/